![]() |
Voel jy ook asof die koning van sy troon afgeskop is? Oral neem almal deel aan elke sportsoort denkbaar en jy sit droëbek en wag dat iemand vir jou kom kuier. Die ridder op die ruiter het egter lankal vergeet van die dame wat vergeefs in die toring sit en wag. Klokslag om 14:00 elke Dinsdag en Donderdag pak entoesiastiese pionne die 32 stukke op 64 swart- en wit blokke uit. Biskop du Preez skakel sy skootrekenaar aan en moet bontstaan om al die deelnemers se name in te tik nadat die een gemat en die ander twee gepat is. Dame Smith maan elke pion tot erns en stilte terwyl Koning Retief (selfde van as die Dame: LOL) probeer om 'n pion op sy plek te sit. Die pion is egter veels te uitgeslape en met 'n sierlike swaai van die septer, waai die koning se kop. Die gevegsfront word in die geestesoog opgeroep en die ruiters, pionne, torings, lopers en koninklikes word voorberei vir die verwoede oorlog wat in die tweede- en derde kwartaal teen ander konin(k)ryke verklaar sal word. As die rooi woorde jou nou heeltemal van stryk gebring het en die ruiter onder die ridder uitgepluk het, kom loer elke Dinsdag en Donderdag na skool by Kleinsaal 2 in. Skop jou skoene uit, maak jou hare los en gryp 'n stuk geruite lap. Pak 32 stukke uit en daag 'n pion, Biskop, Dame of Koning uit tot 'n bloedlose tweegeveg! Jy mag ook van die ander "gepeupel" op die personeel uitnooi om hul staal te kom wys en wie weet, dalk nog die knie te buig teen jou bloeddorstige aanval. Jy sal voel hoe die opgekropte spanning van te veel en ingewikkelde Afrikaanse idiome en gesegdes, deurmekaar syfers en snaakse (bedoelende vreemde) biologiese terminologie in die niet verdwyn, terwyl jy al jou woede en frustrasies van die dag op die SKAAKBORD tot uiting bring! Beskou jouself as uitgedaag tot 'n tweegeveg!
|
![]() |




Sport 


