Vanjaar het die Fisiese Wetenskappe Departement babaskoene aangetrek vir ‘n splinternuwe verrykingsvak vir Graad 9 leerders. Die vak bestaan slegs uit praktiese wetenskap eksperimente. Inhoud vanuit verskillende grade word aangeraak om aan leerders die basiese vaardighede vir die uitvoer van wetenskaplike eksperimente te leer. Temas wat aangeraak word is onder andere redoksreaksies, elektromagnete, stroomelektrisiteit, oppervlakspanning van verskillende vloeistowwe, kristalle, arbeid en energie en nog vele uitdagende en opwindende temas. Met die nuwe vak beoog die Garsie personeel om vaardige wetenskaplikes vir die toekoms op te lei en die reeds puik uitslae te handhaaf of selfs te verbeter.