|
Garsie VCSV
VCSV staan vir Verenigende Christen Studente Vereniging, en dit is werklik 'n plek waar ons God sien regeer. By die Garsie VCSV maak ons dit ons doel om God beter te leer ken en in verhouding met Hom te groei, maar ook om ander in liefde te dien. Ons het weeklikse byeenkomste op Woensdae tydens pouse in die saal waar ons oor relevante onderwerpe saam gesels in kleingroepe. Die onderwerpe word deur 'n spreker bekend gestel waarna die gesprekke in die kleingroepe deur groepleiers gefassiliteer word met behulp van vooraf geskrewe materiaal. Ons het ook elke Vrydag voor skool ‘n tyd van gebed en aanbidding waar ons vir mekaar en ook vir die skool bid, God vertrou dat Hy in ons lewens sal kom werk en Sy wil sal laat gebeur. Ons aanbid ook in hierdie tye die Here deur ons sang en bring aan Hom eer vir die rol wat Hy in ons lewens speel. Ons bied ook kwartaaliks 'n gebedsfokusweek aan waartydens ons kreatiewe gebedsfokusareas inrig en voorskool, pouses en naskool saam bid vir onsself, die skool en ons gemeenskap. Gedurende die September-vakansie is daar ook ‘n kamp van die VCSV by Winklespruit in Natal, wat keer op keer ‘n groot impak maak in die lewens van die groep van 70+ leerders wat gaan. Alhoewel dit ‘n baie rustige kamp by die see is, is dit ook ‘n kamp wat jaarliks lewens radikaal verander. Deur die loop van elke kwartaal het ons ook aandbyeenkomste, sommige met ‘n meer geestelike fokus, soos gebedsaande of wanneer sprekers met ons kom gesels oor relevante onderwerpe, en sommige meer sosiaal van aard, waar ons net saam kuier en mekaar beter leer ken. Vir ons gaan die geloofslewe nie net daaroor om geestelik te groei nie, maar om in gemeenskap saam geestelik te groei. Daarmee saam gaan die geloofslewe ook daaroor om uit te reik en Christus se liefde tasbaar te maak deur ons dade, en daarom reël ons ook elke kwartaal ‘n middag-uitreik, waar ons dan fisies uitreik en ondersteuning bied aan mense wat dit nodig het. So het ons al uitgereik na ‘n plakkerskamp, en ook al by ‘n huis vir weggooibabas vir hulle ‘n bietjie liefde gaan toon wat hul so nodig het. Ons hoop is dat elke leerder wat by VCSV betrokke is, nie net sal beleef hoe Jesus in hul lewens heers as Koning nie, maar ook sal sien hoe Christus se heerskappy as Koning van alle konings sigbaar raak in hul daaglikse leefwêreld. |
Kultuur 


