Tuis Inligting Geraasmakers Akademie GrootSporte KleinSporte Kultuur Kontak ons Koshuis
Leierskap

Rolinastraat

Garsfontein, Pretoria

Gauteng

GPS : 25.7979S - 28.3052E


Telefoonommers

012 998-6096 / 8200 / 8210


garsies@garsies.co.za


OudGarsies

koshuis

skool

Tuis Inligting Geraasmakers Akademie GrootSporte KleinSporte Kultuur Koshuis Kontak ons


Skaak is ‘n sportsoort wat nie net breinkrag oefen nie, maar dit is ook ‘n spel wat fisies baie van ‘n mens verg. Grand Masters vertel graag dat hulle tydens voorbereiding vir ‘n toernooi tot soveel as 20kg verloor!


Daar word geskat dat skaakkundiges tussen 10 000, en selfs soveel as 30 000 posisiepatrone, in hule geheue stoor. Baie lang en intensiewe opleiding is natuurlik nodig om dit te kan bereik. ‘n Studie wat in 2007 in die Verenigde Koninkryk gedoen is, het bevind dat sterk spelers bo-gemiddelde IK’s het.


Me Thea Bezuidenhout

Mnr J du Preez

GarsieSkaak

AFRIGTERS

Me. Hester Rijnen

OUERKOMITEEVOORSITTER

Elf spelers het aan die TuksSkole skaak-toernooi deelgeneem gedurende 27 tot 29 April by Hoërskool Garsfontein. ‘n Puik toernooi is aangebied en 176 spelers van 16 verskillende skole het vir drie dae lank NET skaak gespeel. Ons het die afgelope drie jaar van 13e plek (2013) na 12e plek (2014) na 10e plek vanjaar opgeskuif.

Ons neem verantwoordelikheid vir die feit dat ons slegs 10e plek kon behaal, maar vra die hordes provinsiale en SA-spelers om ook deels verantwoordelikheid te neem daarvoor omdat JÝ op die kantlyn staan en nie deelneem nie. Met jóú bydrae kon die prentjie baie anders gelyk het. Dit is egter nog nie te laat nie. Skakel in by die skaak en kom ons kyk of ‘n skool wat as die “beste skool in Gauteng” gereken word, ook met hul skaaktalent die provinsie kan oorheers

Wat ‘n gesig as 176 skaakspelers gelyk lostrek en speel. Die klein oorloë woed op elke bord en die rook trek behoorlik soos wat die breinkrag inskop.

Daar is, benewens die algehele trofee, ook nog medaljes wat gewen kan word vir die drie top skole. Dan is daar ook bordwenners wat vir elke bordposisie aangewys word. Hierdie jaar het Juan/Gerrie van Staden die bordprys vir bord 6 losgeslaan.


D4- liga

Op 23 April het die D4-liga afgeskop en Garsfontein het 4 spanne ingeskryf. O/15A en B, o/17A en o/19A. Ons wag nog om uit te vind of een van die spanne deur is na die uitspele wat gedurende Augustus by Hoërskool Waterkloof gaan plaasvind.


Die spanne het gemengde welslae behaal. Die o/15 B-span het swaar getrek met meestal beginners en graad 8’s en -9’s wat deelneem. Daar het ook meer meisies vanjaar begin skaak speel, wat groot opgewondenheid veroorsaak het.


Die o/15A-span het beter gevaar en vir Conrad Rogge, die beste speler in die skool en nou eers in graad 8, as hul geheime wapen ingespan.


Die o/17A-span o/19A-span speel 14 en 15 Augustus in die uitspele by HS Waterkloof


Skaak gee om

Tydens die TuksSkoletoernooi het die spelers leë plastiek-bottels bymekaargemaak. Hierdie bottels word by ‘n maatskappy ingehandig wat dan in ruil daarvoor ‘n rolstoel skenk aan ‘n minderbevoorregte gestremde

Baie goeie nuus is dat skaak nou ‘n wêreldklasafrigter aangestel het. Justin Wilken is baie bekend in Pretoria en rig al lank by verskillende skole in die omgewing af. In sy eie woorde:


“Ek rig al meer as 20 jaar af en 16 jaar op permanente basis. Verder rig ek ook nou vir die tweede jaar by Laerskool Garsfontein af, wat dalk goed kan wees op die lange duur vir Hoërskool Garsfontein.


Ek het ook in Engeland, Skotland, Griekeland, Turkye, Slovenië ,Brasilië, Botswana, China en Hongarye skaak afgerig en gespeel.Ek het reeds sedert 2003 SA-spanne afgerig en hope provinsiale spanne en spelers.Ek speel ook nog self en was deel van die Tswhane-span wat gedurende 2015 interprovinsiaal gewen het.


My kennis is breed, maar ek glo my passie vir skaak is ook ‘n groot pluspunt.”

n Gereelde skaakspeler sê op www.chess.com dat hy waargeneem het dat studente verhoogde insig toon in toetse wanneer hulle skaak speel. Hy glo wat gebeur, is dat daar ‘n toename in die bloedvloei na die brein en hoofsentrums in die liggaam is, wat weer verhoogde bewyssyn van jou omgewing veroorsaak, ‘n toename in jou neurosensors en ‘n menigte ander funksies en toenames in liggaamsfunksies veroorsaak wat afwyk van die normale rustende ritmes van die liggaam. Ons eie A-spanspeler, Annelie de Bruin, sê onomwonde dat sy vir ‘n paar maande ophou speel het en dat sy toe agtergekom het dat haar vermoë om skoolwerk vinniger en makliker te kan onthou en weer te kan oproep, begin agteruitgaan het. Sy het natuurlik dadelik weer by ‘n span ingeskakel en gereeld oefeninge bygewoon om daardie vaardigheid skerp en geslyp te hou. Dalk moet ons almal eers ‘n potjie skaak speel voor die eksamen begin sodat ons insig en onthouvermoë kan toeneem!


Vaardigheid is nodig om as sport te kan kwalifiseer. Die meeste definisies van die woord “sport” sê dat dit fisiese voortreflikheid of vaardighede benodig.


Skaak is ‘n spel wat vaardigheid, reaksies en voorspelling verg. Sport moet ook ‘n vorm van kompetisie insluit, wat skaak nog altyd gedoen het. Enigeen wat hiervan verskil, het heel moontlik nog nooit skaak gespeel nie of verstaan nie die konsep van ‘n “sport” nie


Skaak se uitgangspunt; Of jy skaak as ‘n sport sien as ‘n manier om jou intelligensie teen iemand anders te meet, of bloot net om jou strategiese en analitiese vaardighede op te skerp, is ons in alle gevalle bly om jou in die geledere te verwelkom. Ons sien baie uit na die jaar wat nog voorlê en wil skaak tot groter hoogtes neem – vir jou as individu, maar ook om groepsgees te bevorder en ‘n lekker sosiale kuierplek te skep.


Om hierdie doelwit te verwesenlik, benodig ons belangstellendes, let wel, nie net ernstige skaakspelers nie. Jy hoef glad nie eers vir die skool se spanne te speel nie. Jy moet slegs wil leer hoe om skaak te speel, of net  jou reeds bestaande spelvlak te wil opskerp. Kom speel dus vir die lekker. Al vereiste is dat jy met ‘n positiewe ingesteldheid en goeie sportmangees moet kom deelneem

Die ouerkomitee word in kwartaal 3 gekies en ouers se betrokkenheid by al hierdie projekte, toernooie en die liga is van kardinale belang. ‘n Datum sal volgende kwartaal vasgestel word. Skryf solank in jou ouers se dagboeke dat hulle die tweede week van kwartaal 3 moet oophou. Jy WIL hê jou ouers moet ook deel wees van hierdie komitee. Dit verseker jou plek in al die pretprojekte!

Daar is verskeie pretgebeure wat die skaakkomitee in die mou voer om leerders aan te moedig om deel te wees van skaak:


Tydens die Lentedag op 17 September beoog ons om ‘n simultaan te hou waar ons eie mnr. Du Preez teen 7 kinders gelyk moet speel om te wen! Ons afrigter, Justin, gaan ook ‘n simultaan speel teen nog 7 kinders. Verder wil ons graag Garsies se eerste lewendelyfspel speel. Op die grootstel se bord gaan lewendige stukke gepak wees en twee spelers gaan ‘n blitswedstryd teen mekaar speel. Hulle gaan die “stukke” op die bord moet manipuleer om as uiteindelike wenner gekroon te word. Dink solank of jy deel van die 14 simultaanspelers of dalk ‘n “stuk” op ‘n skaakbord. Kom neem deel en wees deel van die skaakgeskiedenis wil wees! Stuur ‘n e-pos met jou naam en van, voogklas en of jy ‘n simultaanspeler of lewendige skaakstuk wil wees na skaak@garsies.co.za voor 31 Augustus 2015.


Prettoernooie word in die vooruitsig gestel waar soveel spelers as moontlik saam met Justin en van die personeel (en dalk ook ouers) op die Gautrein gaan klim en na ‘n toernooi in Johannesburg ry. Daar neem spelers deel en tydens hierdie toernooie word jy gegradeer en kry ‘n gradering by Tshwane Skaak en/of by Chessa.


Ander toernooie in en om Pretoria gaan ook gespeel word. Een daarvan is die Constantiapark-toernooi wat in September plaasvind. Oefen dus solank jou opening!


Die grootste verrassingspakkie is ‘n bootreis gedurende November 2016! Om hiervoor te kwalifiseer moet jy aan ‘n gestelde aantal toernooie deelgeneem het en ‘n minimumgradering behaal (wat later vasgestel sal word). Die eerste 20 spelers wat die gradering behaal en hul gelde inbetaal het, kwalifiseer om hierdie opwindende Skaak-Bootreis mee te maak. Klein blitstoernooie word tydens die bootreis gespeel, maar die fokus gaan wees op PRET, PRET en PRET!


Jy HOEF nie vir die skool Skaak te speel om aan bogenoemde pretprojekte deel te neem nie. Skaak wil jou laat besef hoe lekker en goed Skaak vir jou kan wees. Die intellektuele voordele en lewensvaardighede wat jy hiermee gaan verkry, is ons enigste doelwit. Doen jouself dus ‘n guns en wees deel van die Garsie Skaakgees!


Vir beginners het ons ‘n puik rekenaarprogram wat jou stap vir stap kan wys hoe om Skaak te speel. Dis lewensbelangrike kennis wat jy moet opdoen om eendag ook jou eie kinders te leer hoe om slim keuses te maak! Stuur ‘n e-pos na skaak@garsies.co.za sodat ‘n kursus vir jou gereël kan word.


Vir die spelers in die onderskeie spanne word ‘n skaakkamp in die vooruitsig gestel. Die klem is hier op afrigting en voorbereiding vir 2016 maar ook op pret, ontspanning en geesvang! Daar sal volgende jaar SLEGS drie spanne van 7 spelers elk vir die D4-liga ingeskryf word: 0/15, 0/17 en 0/19. Om hiervoor te kwalifiseer, moet jy aan 4 toernooie deelneem, ‘n minimumgradering behaal (sal later vasgestel word) en 80% van die oefeninge by Justin bywoon voor 15 April 2016.

Wat broei in die skaakkamer ...

Elke Dinsdag en Donderdag om 14:00 tot 15:30 asook elke opening op Maandag, Woensdag en Vrydag (in T24 en T26)

13 Apr  Garsfontein 0/17 wen 4.5 -1.5 teen Voortrekkerhoogte


 7 Mei FINAAL -  ALGEHEEL 10 de                      

30 Julie GarsieSkaak neem deel aan D4 toernooi - eindig 2de en kwalifiseer vir Gautengkampioenskap ‪