Meer oor ons

Simboliek van ons wapen

Alhoewel ons wapen ʼn betreklik eenvoudige ontwerp het, word die leuse pragtig uitgebeeld. Die Troffel, wat die fokuspunt van die wapen vorm, versinnebeeld die “bou”-gedagte: Bou aan ons skool, bou aan ons menseverhoudings, bou aan ons leerders tot goed opgevoede en goed gebalanseerde volwassenes, bou aan ons skool se tradisies en prestasies.

Die drie vlakfigure beeld die triade van die ouer, kind en skool treffend uit. Die ouers en skool is in vennootskap om die kind te “bou”. Hierdie gedagte word uitgebeeld in die vaste basis waarop die ouer en skool gevestig is in die opwaartse neiging van die drie figure. Die kind neig opwaarts met sy ankers stewig in die ouerhuis en skool.

Die gedagte van “bewaar” word vasgevang in die oorkoepelende effek van die drie simboliese vlakfigure: bewaar dít waaraan gebou is, bewaar ons tradisies en prestasies en bewaar ons Christenskap en nasieskap.

Samevattend word die simboliese tekens op ʼn skild geplaas wat die samebindende krag en onderlinge eensgesindheid van ouer, kind en skool beklemtoon.


Bestuur​smodel

Die bestuur van Hoërskool Garsfontein is belas met die verantwoordelikheid vir die vestiging van ’n netwerk van bestuurprosesse met die doel om beheer oor die werksaamhede in die skool uit te oefen. Die organisasiestruktuur is ontwerp om die werk te verdeel en verantwoordelikheid toe te wys aan spesifieke poste en vlakke van bestuur ter ondersteuning van die skool se strategiese en operasionele doelwitte.


Algemene bestuur​


Ons geskiedenis

Hoërskool Garsfontein is in die suidooste van Pretoria sowat 14 km suidoos van die middestad tussen Constantiapark, Moreletapark en Lynnwood geleë. Die skool open sy deure in 1988 met 311 leerders en 15 personeellede.

Hoërskool Garsfontein het deur die jare ‘n hoeksteen vir kwaliteit Afrikaanse onderwys in die Pretoria- Oos omgewing geword. Vir ‘n relatiewe jong skool (35 jaar) bied Garsies ‘n koesterende leeromgewing vir sy leerders om in te groei en het ons as skool so ontwikkel om aan die veranderende behoeftes van onderwys te voldoen terwyl ‘n verbintenis tot uitnemendheid op alle terreine gehandhaaf word.

Skoolhoofde:
Mnr. Chaka van der Merwe (1988 tot 1989)
Mnr. Klaas Pepler (1989 tot 1998)
Mnr. Dirk van Zyl (1998 tot Junie 2013)
Mnr. Leon Bantjes (Junie 2013 tot tans)


Soos die jare gevorder het, het Hoërskool Garsfontein aansienlike groei en uitbreiding ervaar. Die leerdertal is tans 1860 met 104 akademiese personeellede.

Nuwe verbeteringe die afgelope 10 jaar sluit die volgende in:

  • Oprigting van nuwe klaskamers en laboratorium
  • Netwerkstelsels is geïnstalleer en elke klaskamer het toegang tot die internet en WiFi
  • Nuwe rekenaarsentrums
  • Uitbreiding van die Professionele Steundienste Sentrum
  • Nuwe bemarking- en kommersiële kantoor
  • Astro-hokkieveld
  • Hoëprestasie sportsentrum
  • Sportburo
  • Mini-astro
  • Nuwe gras vir ons krieketveld wat meerdoelig aangewend kan word vir rugby en hokkie
  • Nuwe braai-area met plek vir 400 mense tussen krieket- en rugbyveld
  • Koshuis
  • Nuwe hoofingang by Jacqueline- en Rolinastraat
  • Oprigting van nuwe grensmure wat die estetiese van die skool verbeter
  • Kultuursentrum
  • Amfi-teater

Die afgelope jare het Hoërskool Garsfontein aangepas by die veranderde onderwys landskap in Suid Afrika. Hoërskool Garsfontein het tegnologie en moderne onderrigmetodes omhels en leerders voorberei vir die 21ste eeu. Die skool het egter standvastig gebly in sy verbintenis tot uitnemendheid en volhoubare prestasie.

  • 2012 Noordvaalwenners – 1ste dogtershokkiespan
  • 2013 – 2019 Perdesport – beste in SA
  • 2015 – 2019 Bergfietsry – beste in SA
  • 2016 Beeldtrofeëwenners – 1ste rugbyspan (Bere)
  • 2019 Noordvaalwenners – 1ste dogtershokkiespan
  • 2019 Noordvaalwenners – 1ste seunshokkiespan
  • 2019 Noordvaalwenners – 1ste krieketspan
  • 2019 1ste Springbok rugbyspeler – Embrose Papier
  • 2020 1ste Blitzbokspeler – Shaun Williams
  • 2021 Beste Akademiese Skool landswyd met matriekuitslae
  • 2023 SDC-bekerwenners – 1ste span
  • 2023 Noordvaalwenners – o/15 krieketspan
  • Die skool het reeds 16 onderskeie Noordvaaltitels in verskeie sportsoorte gewen

Inkopiemandjie
Scroll to Top